listen to Land en Sand
RSG Bekbasaar: Land en Sand - Kallie Kriel
Die burgerregte-organisasie, AfriForum, vier in 2026 sy 20ste bestaansjaar. AfriForum en sy leiers het die afgelope twee jaar onder skerp kritiek deurgeloop, onder meer oor hulle besoeke aan Amerika en meningsverskille oor Afrikaans en Afrikaners. Pieter Steyn het land en sand met AfriForum se bestuurshoof, Kallie Kriel, gesels oor hierdie kwessies, sy dae as KP-lid van die studentraad van Tukkies, wat AfriForum doen as hulle nie betrokke is by ideologiese debatte nie, en wat hulle ledetal dryf.
RSG Bekbasaar: Land en Sand - Mike Bolhuis
Hy is nie ’n man wat sonder handskoene aangepak moet word nie. Die privaatspeurder en TV- persoonlikheid, Mike Bolhuis, is berug daarvoor dat hy nie doekies omdraai nie. Ook nie in sy eerste boek met die stories van valskermsoldate wat onlangs vrygestel is nie. Mike het op sy kleinhoewe buite Pretoria, land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy geloof, sy swakheid vir parfuum, en van die berugte mense wat hy al ondersoek het – van advokaat Barbie en Dirk Prinsloo tot Louis Liebenberg.
Land en sand: Petrus Vaalbooi
Petrus Vaalbooi, die man wat in Dawid Kruiper se ikoniese voetspore volg as leier van die San-raad van Suid-Afrika, dra ’n swaar erfenis op sy skouers. Hy is bekommerd oor die wankelrige toekoms van sy moedertaal, Nxu. Petrus het tussen die rooi Kalahari-duine, naby die Namibië-grens, land en sand met Pieter Steyn gepraat. Hy vertel waarom hy die naam Boesman bo San verkies. Hy verduidelik ook hoe die jakkalsaltaar werk, ’n ritueel waar ’n paartjie by mekaar vlerksleep en uiteindelik trou.
Land en sand: Brand Pretorius
Hy was ’n sakeleier wat deur die destydse Financial Mail-redakeur, Barney Mthombothi, as ’n fontein van kennis en menslikheid beskryf is. Hy het ’n reuse rol gespeel om Toyota in Suid-Afrika die markleier in voertuigverkope te maak. Brand Pretorius se passie is leierskap en mense. Hy het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy suksesse by Toyota, hoe hy bankrot McCarthy-maatskappe met miljarde rande se skuld omgedraai het, en hoe sykouse hom uit ’n penarie gered het.
Land en sand: Herman Mashaba
Hy was eens 'n vurige ondersteuner van die ANC, het later die brug na die DA oorgesteek, en die laaste paar jaar het hy sy eie politieke party, Action SA. Herman Mashaba is 'n multimiljoenêr-sakeman, wat sedert hy die politiek betree het, gereeld sy oponente die harnas injaag. Herman het land en sand met Pieter Steyn gesels in sy huis in Johannesburg oor sy grootwordjare toe sy ouer susters hom groot gemaak het, sy ma wat skelm saans vir hulle in Hammanskraal kom kuier het, die verbysterende sukses van sy maatskappy, Black Like Me, en hoekom hy saam met die ANC werk, al het hy gesê hy sal nooit weer nie. Hy speel ook 'n stukkie klavier.
Land en sand: Freek Robinson
In 1975, vanjaar 50 jaar gelede, was daar vir die eerste keer televisieuitsendings in Suid-Afrika, hoewel dit nog toetsuitsendings was. Die legendariese uitsaaier en joernalis, Freek Robinson, het in 1975 by SAUK-TV begin werk. Freek het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy liefde vir vis-skiet in die see, die debat tussen Nelson Mandela en FW de Klerk waarna 800 miljoen mense gekyk het, die dag toe hy amper sy lewe verloor het in Soweto, en vele ander groot nuusgebeure waarvan hy 'n getuie was. Ook sy dae as aanbieder van Praat Saam op RSG.
Save video to ...