listen to Dieremaniere
RSG Bekbasaar: Dieremaniere – SA dokter reis na diere om die wêreld
S3E12: Elsje van Jaarsveld sluit hierdie seisoen van Dieremaniere af met ‘n kuier by dr. Phillip Stapelberg, ‘n veearts van Roodepoort wat al na meer as 40 lande gereis het op soek na eksotiese diere. Op sy reise het hy al onder meer ‘n bergleeu in die Amasone aangetref by die plaaslike bevolking. Waar hy ookal kom, bestudeer hy die diere van daardie land, en bring stories en foto’s huistoe. Phillip se passie vir diere is aansteeklik. Hy vertel van sy fassinasie met die diereryk en hoe geweldig dankbaar hy is om elke dag met diere te kan werk.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Waar tegnologie nuwe pote vir diere skenk
S3E11: In die voorlaaste episode van die derde seisoen delf ons diep in die merkwaardige wêreld van diererehabilitasie en tegnologie. Elsje van Jaarsveld praat met Werner Smit van die Pretoria-gebaseerde praktyk, Ani-Motion, wat gespesialiseerde prosteses, krukke en rolstoele vir wilde diere en troeteldiere ontwerp - van honde wat weer vrolik rondhardloop, tot ’n kameelperd en ’n bloukransvoël wat nuwe hoop gekry het. Werner vertel meer oor die fassinerende en soms hartseer uitdagings om hulpmiddels vir diere te bou. Kom ontdek hoe wetenskap en deernis hand aan hand gaan om ’n dier se lewenskwaliteit te herstel.
RSG Bekbasaar: Diemaniere - Diere-chiropraktyk
S3E10: Van hondjies wat weer kan loop tot kalfies wat weer kan suig - dit is waarvan diere-chiropraktisyn, dr. Michiel Opperman, in hierdie episode vertel. Van geliefde huishoudelike troeteldiere tot prestasieperde, kom ontdek hoe spinale gesondheid, subtiele pyntekens en professionele aanpassings 'n dier se lewensgehalte dramaties kan verbeter en selfs nuwe lewe in 'n ouer maat kan blaas. Dr. Michiel vertel ook van die lang pad om 'n diere-chiropraktisyn te word en hoe chiropraktyk vir mense teenoor diere verskil. Dit is 'n kykie na 'n wêreld wat 'n tweede lewe in 'n dier se lewev kan blaas.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Die hart van die wildtuin
S3E9: Dr. Sam Ferreira, ‘n soogdierekoloog van die Krugerwildtuin, ontrafel die geheime van een van die Laeveld se mees suksesvolle bewoners - die rooibok. Hy praat oor die fassinerende dinamika van kuddes tot die ongelooflike evolusionêre wonderwerk van die somerlamtyd waar duisende lammers gelyk gebore word om druk van roofdiere te weerstaan. Ons kyk ook na hoe hierdie pragtige diere aanpas by droogtes, hulle unieke rol, en wat die toekoms inhou vir rooibokbevolkings in 'n veranderende omgewing.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Die kuns om wilde diere te kiek
S3E8: Dit is gerieflik om foto's van wilde diere te bewonder, maar wat verg dit regtig om wildediere van naderby af te neem. Elsje van Jaarsveld gesels met die bekende wildlewefotograaf, Niel Cillié. Niel het al verskeie asemrowende boeke gepubliseer van sy foto's van soogdiere en reptiele tot voëls en amfibiese spesies. Hy vertel openhartig van die uiterste omstandighede wat hy moet verduur; van yskoue oggende tot ure lank in die bloedige son, net om daardie een perfekte oomblik vas te vang. Hy deel ook waardevolle, praktiese raad vir aspirant natuurfotograwe wat self hierdie opwindende stokperdjie wil aanpak.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Yster, die mak tarentaal
S3E07: Elsje van Jaarsveld gesels met Irmari Arendt oor 'n baie ongewone huismaat: Yster, die mak tarentaal. Nadat sy ma hom as 'n brose kuiken van net drie dae oud, verwerp het, het Irmari hom ingeneem en grootgemaak. Vandag deel Yster die huis met 'n paar honde, luister gehoorsaam na sy eienaar, geniet dit om op die bed te slaap, en skroom nie om sy stem dik te maak as dinge nie na sy sin is nie. Dit is 'n ongewone verhaal van liefde, lojaliteit en die onvoorspelbare vreugde van ons diereryk.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Die lewenslesse wat donkies ons leer
S3E6: Ons neem jou na die skilderagtige McGregor in die Wes-Kaap, waar die storie van Eseltjiesrus ontvou. Elsje van Jaarsveld gesels met die stigter, dr. Johan van Zijl, oor sy inspirerende reis en die passie wat gelei het tot die stigting van hierdie unieke veeartsenykundige en aftreehawe vir donkies. Donkies word dikwels beskou as koppig, maar dr. Van Zijl verduidelik hoe hierdie sagmoedige diere vir ons betekenisvolle lewenslesse kom leer. By Eseltjiesrys kry die diere 'n tweede kans op 'n waardige lewe nadat hulle jare lank harde werk of verwaarlosing trotseer het.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Toffee, getraumatiseerde kinders se redder
S3E5: Kan 'n hond 'n kind help om erge trauma te verwerk? Elsje van Jaarsveld gesels met maatskaplike werker Edith Kriel van die Jelly Beanz-praktyk. Edith gebruik haar Golden Retriever, Toffee, as 'n gelisensieerde terapiehond om kinders te help wat vreesaanjaende traumatiese gebeurtenisse beleef het. Waar grootmense dikwels wantroue by hierdie kinders ontlok, bring Toffee 'n onmiddellike gevoel van veiligheid, kalmte en onvoorwaardelike aanvaarding. Ons hoor die inspirerende storie hoe Toffee 'n jong kind in die hofsaal getrou ondersteun het tydens moeilike getuienis teen sy eie pa. Hierdie hartroerende episode wys die diep, genesende band tussen mens en dier.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Die belangrikste kollega op die skaapplaas
S3E4: Ons ontdek die buitengewone wêreld van werkhonde en die sterk band tussen ‘n skaapboer en sy hond. Elsje van Jaarveld gesels met die ervare Swellendamse boer en skaaphond-kenner, Mark Trollip, oor die kuns van skaapherderwerk, die belangrikheid van regte genetika en temperament, en sy uitsonderlike skaaphond, Diesel, wat onlangs as nasionale skaaphondkampioen gekroon is. Ons hoor waarom 'n getroue skaaphond skape sonder moeite kan ‘lees’ en hoe hierdie wonderlike diere belangrike vennote op die platteland word.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere- Die pyn van troeteldierverlies
S3E3: Wanneer 'n troeteldier groet, verloor ons meer as net 'n diertjie, ons verloor 'n gesinslid en 'n getroue kameraad. Elsje van Jaarsveld praat met René Rossouw, stigter van Petkidz, 'n veilige hawe en ondersteuningsgemeenskap vir troeteldiereienaars wat die intense pyn van troeteldierverlies beleef. In vandag se wêreld word ons diere al hoe meer gehumaniseer en as volwaardige lede van die huisgesin beskou. René verduidelik waarom die rouproses van ‘n troeteldier so diep sny, hoe om die emosionele gewig daarvan te dra, en deel praktiese raad om jou deur die moeilikste dae te help.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Die vrou wat diere in die veld opereer
S3E2: In hierdie roerende episode gesels Elsje van Jaarsveld met dr. Annerie Greyling, die stigter van Wandervet. Dr. Greyling het vyf jaar gelede dié nie-winsgewende organisasie gestig nadat sy beleef het hoe diere swaar kry terwyl sy deur derdewêreldlande gereis het as ‘n student. Aanvanklik het sy met ontwurmingsmiddels in haar handsak rondgeloop en diere gehelp wat sy teëkom, maar vandag doen sy en ‘n groep vrywilligers volwaardige uitreikaksies om diere wat dit die nodigste het, te help. Hoor hoe sy gewone kerksale, skoolsale en gemeenskapsale vir een dag omskep in volwaardige dierehospitale. Dr. Annerie deel die diep dankbaarheid van die diere-eienaars wat sy ontmoet, en spreek die wanpersepsie aan dat mense wat nie hulle diere in minderbevoorregte gebiede versorg nie, nie hulle diere lief het nie. Dieremaniere word met trots moontlik gemaak deur Virseker Troeteldierversekering
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Mielies die skaaphond
S1E3: Ons ontmoet vir Mielies, 'n skaaphond met 'n daaglikse 'kantoorwerk'. Mielies vergesel Paul van Deventer, uitvoerende hoof van Sol-Tech, elke dag kampus toe. Mielies is as’t ware die baas van die plaas. Kom ontdek hoe hierdie sensitiewe, brawe hond die harte van studente en personeel gesteel het, hoe hy eiehandig kampusveiligheid respekteer deur gevaarsones te vermy, en hoe sy fyn aanvoeling vir menslike emosies troos bring waar dit die nodigste is. Seisoen 3 word met trots geborg deur Virseker Troeteldierversekering.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Lente Rhoode se leeftyd van omgee
S2E 20: In die laaste episode van Seisoen 2 reis Elsje van Jaarsveld na die Laeveld vir ’n ontmoeting wat jou hart vinniger sal laat klop. Sy gesels met die merkwaardige Lente Rhoode van die Hoedspruit Bedreigde Spesie Sentrum. Lente deel haar aangrypende lewensverhaal en haar jarelange pad met die rehabilitasie van wilde diere. Ons kry ’n intieme blik op haar unieke grootwordjare, waaronder die storie van ’n jagluiperd wat sy as kind in haar eie ouerhuis grootgemaak het. Lente sluit die reeks af met ’n besonderse, mooi boodskap oor ons diep verbintenis met die natuur. Dit is ’n viering van ’n seisoen vol wonderlike stories, van die sjimpansees in Angola tot die witkruisarende van Johannesburg.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Die witkruisarende van Roodekrans
S2E19: Elsje van Jaarsveld neem jou na die hange van die Walter Sisulu Botaniese Tuine in Roodepoort. Sy gesels met Johann van den Berg, ’n passievolle vrywilliger verbonde aan die Black Eagles Project Roodekrans. Johann deel die merkwaardige en unieke verhaal van ’n broeipaar witkruisarende (Black Eagles) wat verkies het om hulle nes te skop te midde van die woelige stadslewe. Jy kry ’n intieme blik op hoe hierdie majestueuse roofvoëls daarin slaag om te oorleef, te jag en suksesvol te broei in ’n stedelike omgewing. Dit is tans broeityd, en die opwinding is groot aangesien ’n nuwe kuiken enige oomblik kan uitbroei. Johann verduidelik wat dit behels om as vrywilliger jou tyd op te offer om hierdie konings van die lug te monitor en beskerm.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Die moeilike pad na vryheid
S2E18: In hierdie aangrypende en inspirerende episode neem Elsje van Jaarsveld ons agter die skerms van wildrehabilitasie, saam met Wade Whitehead van FreeMe Wildlife. Hy deel die emosionele en logistieke uitdagings wat gepaard gaan met die behandeling en uiteindelike vrylating van beseerde en getraumatiseerde wilde diere. Ons hoor van die dramatiese verhaal van hoe hulle op ’n een slag 4 000 valke moes inneem en versorg nadat die voëls in ’n geweldige haelstorm beseer is. Ons kry ’n unieke blik op die daaglikse sorg van ’n wye verskeidenheid diere wat tans in hulle fasiliteit is - van skilpaaie, tierboskatte, muskeljaatkatte en vaalboskatte tot kraanvoëls, aasvoëls, uile, blesbokke, duikertjies, njalas en ’n zebra. Wade beklemtoon die kragtige netwerk van vrywilligers, veartse en passievolle individue wat nodig is om die suksesvolle rehabilitasie van net een enkele dier moontlik te maak.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere – Bewaarders van die Hoogland
S2E17: Elsje van Jaarsveld neem ons na die manjifieke Golden Gate Hoogland Nasionale Park vir ’n ontmoeting met die parkbestuurder, Paddy Gordon. Paddy deel fassinerende staaltjies uit sy merkwaardige loopbaan, waarin hy reeds sewe verskillende nasionale parke onder die vaandel van Sanparke bestuur het. Hy verduidelik wat sy daaglikse werk behels, en beklemtoon die kritieke rol van deurlopende skakeling met plaaslike gemeenskappe om van ’n bewaararea ’n sukses te maak. ’n Hoogtepunt van die gesprek is die nuwe Kgodumodumo Dinosourussentrum, wat sedert sy opening in 2025 reeds 100 000 besoekers verwelkom het. Paddy vertel van die antieke geskiedenis van die gebied, met stories oor die dinosourusse wat 200 miljoen jaar gelede daar geleef het, en hoe hulle uiteindelik uitgesterf het. Die episode word afgerond met ’n dieregeluid-vasvrae oor ’n bekende langnekdier wat selde gehoor word.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere – Van museums tot ’n paradys: ‘n Ereplek vir honde
S2/E16: Elsje van Jaarsveld neem ons op ’n inspirerende reis na bestemmings waar honde nie net toegelaat word nie, maar as’t ware as familielede geëer en gevier word. Sy gesels Elsje met Karel van der Vyver oor die unieke hondemuseum in Kaapstad, wat die geskiedenis van honde in Suid-Afrika met foto- en beeldhoukuns uitbeeld. Selfs goedgemanierde honde aan leibande is welkom tussen die kunswerke! Daarna verskuif die fokus na die buitelug wanneer Ashley Enslin, eienaar van die bekende Walkhaven Dog Park in Muldersdrift, vertel van hul 22-hektaar paradys langs die Wieg van die Mensdom. Hier kan honde vrylik hardloop, in damme swem en sonder ‘n leiband in die natuur ontspan. Die episode word afgerond met ’n dieregeluid-vasvrae oor die vinnigste soogdier op land.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E15
Elsje van Jaarsveld gesels met Susan Lombard, bestuurshoof van Maroela Media, oor ’n baie spesiale spanlid wat reeds vir tien jaar in die kantoorgange wandel - Japie, die Goue Abbakeur (Golden Retriever). Japie is destyds in die kantoor verwelkom met ’n baie spesifieke doel, om die gemoedere te lig waar joernaliste daagliks met ontstellende stories te doen kry. Susan deel kostelike staaltjies oor Japie se teenwoordigheid, maar die gesprek fokus ook op die praktiese sy van sake soos die verantwoordelikheid van die versorging van ’n kantoorhond en die faktore wat ondernemings in ag moet neem voordat hulle besluit om ’n troeteldier in die werksplek toe te laat.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E14
In hierdie episode gesels Elsje van Jaarsveld met Dr. Sam Ferreira, ‘n soogdier-ekoloog van SANParke, oor die gesofistikeerde bestuur van die olifantbevolking in die Krugerwildtuin. Hy verduidelik hoe volhoubare bewaring nie op drastiese ingrypings steun nie, maar eerder op die strategiese bestuur van hulpbronne soos water, voedsel en geskikte habitatte. Die gesprek belig ook hoe olifante se natuurlike gedrag en kommunikasie benut word om hulle beweging te beïnvloed en konflikareas te vermy. Dr. Ferreira deel insigte oor die bewegings van olifante tussen Suid-Afrika, Mosambiek en Botswana, en hoe hierdie diere selfs kusgebiede kan bereik. Ons fokus ook op die wildtuin se eeufeesviering, met refleksie oor ’n eeu van bewaring en die toekoms van biodiversiteitsbestuur in die streek.
RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E13
Elsje van Jaarsveld ondersoek die komplekse karakter van die Amerikaanse Vegtershond. Lehanda Rheeder van die Pitbull Federasie van Suid-Afrika verduidelik waarom hierdie honde uitstekende metgeselle vir mense is, maar beklemtoon die kritieke belangrikheid van stimulasie, veilige omheining en die verantwoordelikheid van die eienaar. Elsje vertel ook van die dag wat sy en haar Beagle deur ‘n Pitbull aangeval is.
No one likes ads!
Switch to our ad-free tier today and get unlimited access to live TV / Radio, VOD, AOD and Catch Up content with zero commercial breaks.
Save video to ...